Sondag 5 van meditasie-reeks #Spoorlangs

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Apr 2 2022 • 3 mins

Die groot Russiese skrywer, Anton Checkov, het gesê,  "Moenie vir my sê die maan skyn nie. Wys vir my die glans van maanlig op gebreekte glas."  Laat die maanlig praat, al is dit 'n gebroke poging.  "Show, don't tell."

In 1 Kor 1:18-31 skryf Paulus dat die Grieke dink hulle kan God met filosofiese gesprekke beredeneer; vir die Jode draai alles weer rondom wonderwerke  Dan … "show, don't tell"… Paulus steek sy vinger uit en wys na die kruis. Net dit. Daar is God:  "Die boodskap van die kruis van Christus is.. die krag van God" (1 Kor 1:18).

Julle dink julle kan Jesus met argumente beredeneer, Grieke (en hedendaagse wetenskaplikes en slimmes). Julle wou van Jesus iets anders maak as wat hy is, Jode (en hedendaagse gelowiges wat julle "eie" Jesus skep om julle te pas). Maar, dáár is God aan die woord. Hard en duidelik. Jesus, die een wat dáár hang, Hy doen die praatwerk.  Hy ís God se eerste en God se laaste Woord.

Deur Jesus dood te maak, wou Rome Jesus as 'n politieke bedreiging uit die weg ruim.  Waarom wou die Jode dit doen? Hulle verwagte Messias moes die Jode se eer herstel, en Jesus wou God se eer herstel.  Deur Jesus dood te maak, kon hulle Sy Woorde saam met hom laat sterf. Wat was die inhoud van Jesus se woorde? Dink mooi, bykans al Jesus se praatjies het begin met:  "Die koninkryk van God is…".  Soos Paulus verduidelik:  "Die koninkryk van God is immers nie 'n saak van praatjies nie, maar van krag" (1 Kor 4:20).  Die krag van 'n oopgerolde grafsteen (aldus Ef. 1:18).

Daardie Vrydag was die grootste "gekkedag". Want, helaas, God is nie dood nie. God leef.  Hierdie dag is Sondag. Ons wéét wat wag…

GEBED:  Leer my om weg te draai van myself en in U rigting te wys, Here.

SKILDERY-BRON:  “Kingdom Of God” is in gemengde media deur John Dunigan (2014).  Lees meer by  https://fineartamerica.com/featured/kingdom-of-god-john-dunigan.html
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/